Boek 2 – Die Kort Swaard – Voorwoord

VOORWOORD

My vrou, Yvonne en ek het besluit om in die platteland te woon en om ons kinders ‘n gehalte manier van lewe te gee. ‘n Plaaslike boer het vir ons ‘n stukkie grond gegee om op te bou en te lewe. Ek het in die omliggende berge, droë hardehout versamel en beelde daaruit gekerf. Yvonne het dit in die padstal wat ons gebou het, verkoop. Alhoewel ons arm aan wêreldse besittings was, het ons ‘n gehalte lewenstyl gehad en die hoop op ‘n blink toekoms.

Ons was egter nie toegerus vir die ‘bagasie’ wat besoekers en toeriste by ons agtergelaat het nie.

Yvonne, met haar sonnige geaardheid, het graag na die besoekers geluister en vir my gevra om met hulle oor hul probleme te praat en hulle te bemoedig. Dit het ons gedoen en hulle probeer versterk deur hulle te vertel hoe ons, ons probleme hanteer, deur te lewe in die geloof en by wyse van ons persoonlike getuienisse. Ons het hulle aangemoedig om die Bybel te lees, God se krygstuig aan te trek en om die Bloed te verstaan. Ons staan vandag nog stomgeslaan oor hoeveel van God se volwasse kinders nie eers hierdie basiese dinge doen nie en dan blameer hulle vir God. Ons frustrasies het al hoe meer toegeneem en toe smeek ons God vir ‘n wyse, om die mense wat ons so ontmoet, te kan help.

Om drie-uur een oggend, het ek buite onder die sterre gesit en mediteer. Die volgende oomblik het ek die Geestes-Wêreld gesien wat in ‘n grot verduidelik word. Ek het gesien hoe dat baie mense op dié manier gehelp word. Van daardie oomblik af, het dit ons strewe geword om ons eie eiendom te besit en om die grot te bou. Hierin het ons uiteindelik geslaag, gepaardgaande met baie beproewinge waarvan ons u in die boek, ‘Die Lyn’ vertel.

Saam met ons kinders Michelle en Aldo, het ons vir ses jaar, duisende mense deur die grot begelei, voordat die Here aan ons ‘n skildery en ‘n bonatuurlike wyse gegee het om te bewys dat daar ‘n geestelike skeidingslyn tussen die Koninkryk van die Lig en die Koninkryk van die Duister is.

Vir die eerste keer het ons nou al die werk wat op Golgota gedoen was en die Kruis verstaan. Al ons persoonlike probleme is deur die openbaringe opgelos. Ons het ook, deur middel van die bekendmaking van hierdie kennis, kon sien hoe ons vriende genees word en van hulle laste verlos word. Ons het nie meer nodig om iemand te besoek vir genesing nie. DAAR IS ‘N HOë PLEK IN ONS GEDAGTES waar ons die Here in die koelte van die dag ontmoet en waar ons genesing ontvang en instruksies kry om probleme op te los.

Die ‘Kort Swaard’ is die resultaat van ons bereidwilligheid om ons geestelike groei te saai en met ons naaste te deel. As jy saai, sal jy maai.

Daar is so baie siek, arm en depressiewe Godvresende mense, wat om een of ander rede, skynbaar nie kan begryp waaroor die Bybel eintlik gaan nie. Die doel van hierdie boek is dan ook, om nie net as ‘n handleiding te dien nie, maar om aan u die kerngedagte van elke Bybelverhaal, makliker te laat verstaan en hoekom God dit hoegenaamd in die Skrif opgeneem het. Verder sal dit u aanmoedig om die Bybel te bestudeer en om uit te vind hoe elke storie lei tot die Christusstorie.    

DEEL 1

DIE GEDAGTES

Dit is algemene kennis dat daar krag in ons denke is. Ons weet ook, dat daar baie mense is wat hierdie krag suksesvol aanwend. Hulle is egter meestal nie-Christene en dit is wat my daarvan weerhou het om die ‘mind’ te bestudeer. Vir ons Christene is dit ‘n ongekarteerde gebied en ons wil ons nie blootstel om deur demone beset te word nie.

Dit is daarom vir my ‘n groot verligting gewees toe ek uitvind dat die ‘siel’ die ‘mind’ is. Jesus het Sy siel vir die mens se sondes geoffer. Sonde is in die wyse wat ons dink. Dit is hoe ek tot die gevolgtrekking gekom het dat Jesus vir ons gedagtes gesterf het.

Soos ons aangaan met hierdie studies en jy ernstig genoeg is om die waarheid vir jouself uit te vind, sal dit baie baat as jy e-Sword op jou rekenaar aflaai. Dit is gratis vir almal. Kyk op ons kolofoonblad (bls.2) vir die posadres. Dan kan u al die stellings en bewerings vir uself nagaan en sommer hoor wat Die Gees van die Waarheid hieroor te sê het.  

Ek wens ons kon net die kerngedagte van elke Bybelstorie vasvang vir u gerief. Maar ons hoop om die aandag te kry van mense op elke vlak van geestelike groei en daarom moes ek redelike agtergrond van elke storie gee. Die doel van die boek is om as handleiding te gebruik vir die teken van eenvoudige sketsies, of om selfs net te deel met diegene wat u op u pad ontmoet. Dit laat my altyd so magteloos, as ek nie al die gereedskap het om die hulpbehoewendes te kan help nie. As jy van nou af besoek by ‘n hospitaal aflê en die Here gee jou die geleentheid om Sy Woord te bedien, haal eenvoudig net jou ‘Kort Swaard’ uit en wys hulle die prentjies. Daar is baie krag in ons denke.

Gen 2:7:   “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas.” So het dan die mens ‘n lewende siel geword.  (1Kor 15:45-49)

Hy is nou ‘n wese wat asemhaal (H5315). Hierdie nommers in hakies word vir u gerief gegee. Tik dit in jou e-Sword, daar waar die verkykertjie is en kyk wat die konteks is in die Hebreeus Griekse woordeboek. Die Ou Testament is vertaal uit Hebreeus en die Nuwe Testament uit die Grieks.

Die krag wat in Adam is, is God in hom. Die asem van God is die krag in ons. Hy is die ‘EK IS’. Hy het Homself aan Moses voorgestel as ‘EK IS!’ – DIE KRAG BINNE JOU. Laastens, my persoonlike waarneming; Hierdie krag in ons, is God in ons. Dit is die enigste rede waarom ons harte klop. Sonder Sy teenwoordigheid in ons, sal ons sekerlik sterf.

Daar is mense wat die krag van binne hulself gebruik tot groot sukses en God nie die eer daarvoor gee nie. Sommiges kan met die krag selfs ysters buig, oor gloeiende kole loop, genesing ontvang en dan noem hulle dit, die krag van die ‘mind’. Mense soos Henry Ford, Thomas Edison, Marconi, Mark Twain en andere het almal die ‘eindelose krag’ gevra vir inspirasie voordat hulle gaan slaap het. Hulle het almal baie tyd spandeer, deur na hul persoonlike droom te kyk en hulself daarmee te vul. Nie een van hierdie mense was bekend gewees vir hul toegewyde geloof nie, hulle het eenvoudig net die negatiewe geïgnoreer en op die positiewe gekonsentreer. Een jong knaap van ongeveer agt jaar oud, het die situasie mooi opgesom deur te sê:  “Oom, dit klink baie maklik, maar dit is nie so maklik nie, nê?”

My eie swaer was ‘n nie-Christen, ‘n suksesvolle besigheidsman. Ons het hom eenkeer gevra om ‘n groepie, tydens ‘n naweek seminaar, toe te spreek. Hy het gesê, daar is ‘n krag binne ons. Hy weet nie wat dit is nie, miskien is dit God, maar hy glo nie in God nie. Deur persoonlike dissipline het hy hierdie krag aangewend vir finansiële gewin. Hy het elke oggend, winter of somer, in die swembad geduik. Dit was om homself te oefen om sy gedagtes gefokus te hou op, wat ookal hy na gestreef het. Hier kom my nuwe kar, sou hy sê, terwyl hy sy hande in afwagting vryf. En dan het hy dit gekry!

Hierdie nie-Christen het eenmaal die volgende stelling gemaak: “Wanneer jy besluit het wat die doelwit is, moet jy konstant daarna kyk. Moet nie bekommer omdat daar nie geld is nie, die geld sal kom.” Hy het nooit iemand iets beny nie, nooit jaloers op iemand gewees nie en HET GEEN BENUL VAN NEDERIGHEID GEHAD NIE.

Hy het daarin geglo om goed te wees en het altyd van ‘ou Niek’ gepraat as sy persoonlike kastyder.

Hy was egter nie so gelukkig in ander gebiede van sy lewe, soos sy huwelik en verhoudings met ander mense nie. Daar was ‘n diepe, persoonlike hartseer in my swaer, wat nie gevul kon word met besittings en ‘n kompeterende leefstyl nie.

As u my ander boek ‘Die Misterie van die Eeue’ gelees het, sal u ‘n idee hê van die oorlog wat binne ons plaasvind. Die doel van hierdie boek is, vir ons om ‘n holistiese voorspoed te beleef.

In my persoonlike studies, het ek nie op een van hierdie suksesvolle mense afgekom, wat fisies hard gewerk het nie. Hulle spandeer baie tyd aan hulle persoonlike drome en doelwitte.  

KRAG

As Christene word ons nie juis aangemoedig om die krag van die denke te gebruik nie, want ons is bang ons word deur ‘n duiwel of ‘n demoon beset en bowendien, dit klink darem baie Oosters. Ten spyte daarvan bid ons Ef 1:17:

Ef 1:17:  “… die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, …”

As kinders word ons nooit geleer van die krag van die ‘mind’ nie, maar ons word aangemoedig om geld by die bank te leen. Die banke sê: “Jy het God nie nodig nie, leen by ons geld en bly die res van jou lewe in skuld.” Dit mag dalk net die rede wees hoekom ons in skuld beland, want ons wil dit nóú hê. In kontras hiermee, leer die Bybel ons: ‘Nie deur krag of mag nie, maar deur My Gees.’

Baie van hierdie ‘krag van die verstand’-boeke, verduidelik wel die krag wat in ons is en gebruik dit wel baie suksesvol. Hulle gebruik selfs aanhalings uit die Bybel. Ons weet egter dat ‘n mens enigiets uit die Bybel kan bewys. Wat ons graag wil weet, is hoe kan ons dit doen deur die Gees en die waarheid en aan God die eer gee?

Hierdie tipe boeke vertel in baie gevalle van bonatuurlike gebeure, wat plaasgevind het omdat dit deur die brein gewil is en daarvoor, in afwagting gehoop is. My vriend Trevor Thomson het my van so ‘n geval vertel. Hy sê dat hy een Kersfees vir die kinders ‘n verrassing gebou het. Daarvoor het hy egter baie goiingsak benodig. Terwyl hy oppad is om van die goed in die hande te probeer kry, vind hy ‘n hele baal daarvan in die pad. Nou wat is die kans dat so iets gebeur? Ek kan maar net aflei dat dit die Hemel is wat voorsien het, maar Trevor staan nie sterk op Christenskap nie. Miskien het hy die krag van sy brein gebruik. Hy sê dat hy juis op daardie oomblik geestelik sterk gevoel het. Hy was duidelik op daardie tydstip seker daarvan, dat wat hy doen, reg is en hy het op die Hemel gehoop om te voorsien. Wat is dan die doel van die kruisiging as ons hierdie krag kan gebruik en regkom daarmee, sonder die kruis in elk geval? Vir hierdie rede is dit noodsaaklik dat ons moet uitvind wat die ‘mind’ is.

SIEL

‘n Studie van die woord ‘siel’ in die Hebreeus en Griekse Konkordansie het gelei tot die volgende ontdekking: Die Siel is die ‘Mind’. As ek hierdie feit as kind geweet het, sou my lewe waarskynlik heeltemal anders daaruit gesien het, want soos die mens dink, so is hy.      

Die Vines Woordeboek het die volgende van die SIEL te sê:

Vines oor Spreuke 16:2: “Die woord blyk baie meer te meen as slegs die element van lewe, dit blyk te meen ‘Siel’. In die mens se oë is al sy weë skoon, maar God oorweeg die Gees.”

Die ‘King James Version’ gebruik alleen meer as agt-en-twintig verskillende terme vir hierdie een Hebreeuse woord. Ons sal dit met u deel gedurende die loop van die boek en ook in die diep studie wat gemaak word in die volgende boek oor die LYN, ‘ ‘n Kamer Met ‘n Uitsig’. Dit is dan ook om hierdie rede dat ons deurgaans, waar dit moeilik is om ‘n goeie Afrikaanse ekwivalent te vind,  die term ‘mind’ gebruik het.

Die Siel en die Gees van die mens is van die verwarrendste onderwerpe in die wêreld, maar na alles gesê is, bly dit steeds die krag van die ‘mind’ wat jou in staat stel om ysters te buig en oor gloeiende kole te loop.

Wat is dan die GEES?

Wanneer iemand byvoorbeeld sy woede mediteer, dan kyk ons na hom en sê hy het ‘n kwaai gees. Dit beteken dat sy woede-denke nie bloot meer gedagtes is nie, maar dat dit die meditasie van sy hart geword het.

Soos ‘n mens dink, so is hy. Kom ons kyk nou wat die HART is (3 Joh 1:2).

HART

Wanneer jy die meeste mense vra waar die siel in jou geleë is, sal hulle na die hart wys.

Spr 4:23:  “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” 

Hierdie woord ‘Hart’ word ook vertolk as ‘mind’ en ‘kern’ (3820) en in hierdie konteks word dit 666 keer in die Ou Testament gebruik. Kom ons lees bostaande skriftuurplasing nou reg:

Bewaak jou ‘mind’ (kern) meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.   

 In ander woorde, soos die mens dink, so is hy.  In Psalm 21:2 sê dit dat God ons die begeertes van ons harte gee,maar die woord beteken eintlik denke (mind).

Dus, God gee aan ons dit wat ons in ons harte dink. Hy gee aan ons diep gemediteerde denke, of dit nou goed of sleg is. As ons dink ons is siek, dan is ons siek. As ons dink dat ons gesond is, dan is ons gesond. Dit is hoekom ons die Bybel moet lees, want ons wil God se denke dink, tyd by Hom spandeer in ‘n verhouding met Hom, wat gelei word deur die Gees, in die koelte van die dag. Die eindresultaat is ‘n Geesgeleide lewe. Ons doen dit nie deur krag of mag van die ‘mind’ nie, maar deur die Gees van die Waarheid. (Sag 4:6).

God het die hart van Farao verhard (Eks 7:1). Hy het nie die pompende spier in Farao se liggaam verhard nie, maar sy denke (mind) teenoor die Israeliete. Ons doen dit ook dikwels bv. wanneer ons sê ons sal nie weer iemand om een of ander rede vertrou nie. Hierdie is ‘n persoonlike keuse en is nie geesgelei nie.

Gen 6:6:  “…het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.” (Mind)

Spr 3:5:  “Vertrou op die HERE met jou hele hart (mind) en steun nie op jou eie insig nie.”

Dit bring ons by die belangrikste vers. Die woord ‘siel’ is ons ‘gedagtes’ (mind). Strong’s nommer 5315. Dit beteken ook ‘wese wat asemhaal’. Dieselfde asem wat in Adam geblaas is. Hierdie woord is ook dieselfde lewe wat in alle lewende skepsels voorkom. DIE ASEM VAN GOD.

Jes 53:11:  “Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.” 

Die wyse wat ons dink, is sonde.

Sonde is nie lewensvatbare denke nie. Niks skeppend kan uit sondige denke kom nie, as jy ongeluk dink, gebeur ongeluk. As ons denke oor so ‘n geweldige krag beskik, wat die lewe of die dood kan veroorsaak, is dit nie nou die tyd dat ons besin oor wat ons dink nie?

Deut 30:19:  “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,”      

In Openbaring 1:18, sien ons Jesus Christus hou die sleutels van die lewe. Dit beteken dat net HY aan ons ‘n veilige ‘mind’ kan gee waarin ons lewegewende denke kan dink. (Joh 10:10)

Illustrasie 2 is waarna ons hunker. Ons wil God se Koninkryk wees, Sy krag en Sy glorie. Ander mense moet kan sien die Koninkryk is in ons. Hierdie son in die sentrum van ons wese (mind), is die naam van die Koninkryk van God. (Gen 1:4).

Matt 16:19:  “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”

Wanneer ons lewe dink en praat, verloor ons die hemel in die aarde.

Het Jesus werklik vir ons ‘minds’ gesterf?

Die krag is in die ‘mind’. Daarom is dit seker die magtigste kragbron op aarde. Maar hierdie kragbron staan onder konstante aanval van nie-lewensgewende, persoonlike en dierlike gedagtes. Gedurende die res van die boek, sal dit bewys word dat DIE WERK WAT BY DIE KRUIS GEDOEN IS, VIR ONS ‘MINDS’ WAS.

Dr J. Murphy se boek ‘The Power of the Mind’ sê: “Wetenskap lig ons in dat ons elke elf maande ‘n nuwe liggaam bou. Maar as ons defekte in ons liggaam inbou deur negatiewe gedagtes soos vrees, jaloesie en woede, dan kan ons niemand behalwe onsself daarvoor blameer nie.”

Die Goddelike krag binne ons is goed en oorvloedig. Dit is vol van elke goeie ding wat jy jou ookal kan verbeel, dink, of voor wens (Ef 3:2). Dit is voordurend besig om te skep en ons te druk vir lewensdenke. Tradisies en geloof het ons egter beroof van hierdie konstante bron van lewegewende mag en dit vervang met vrees.

Wanneer jy die lewens bestudeer van die grootste, suksesvolle besigheids-manne, digters, kunstenaars, sprekers en skrywers, sal jy altyd vind hulle het hulle beroep op die ‘innerlike kragte’ om dinge te openbaar, wat niemand van geweet het nie. Henry Ford, Thomas Edison, Mark Twain, Robert Louis Stevenson, Dale Carnegy, Giacomo Puccini, Johannes Brahms, om net ‘n paar te noem, sê almal dieselfde, nl: “Dadelik het die idees my begin binnevloei, direk vanaf God.” Hulle was nie noodwendig groot Christene nie en hulle het nie die Kruis verstaan soos ons dit vandag verstaan nie. Ook het hulle die beginsel van die Bloed nie verstaan nie, maar hulle het geglo in die krag van die denke.

Die meeste van hulle het geglo dat hulle self die kaptein van hulle siele is. Ons glo nie so nie, want ons het ‘n Kaptein wat dinge aan ons openbaar deur Sy indringende Gees.

Ons word voortdurend gelei deur Sy Waarheid en is die nuwe generasie, wat die wêreld voor gewag het om geopenbaar te word (Rom 8). Nasies sal kom na hierdie LIG (Jes 55:5). In hierdie generasie is die Lig van die wêreld (Matt 5:14).

Daarom, staan op, want jou lig het opgekom. Die glorie van God het oor jou gekom (Jes 60:1). Die kennis van die glorie van God het nou na ons toe gekom (Hab 2:14).

To Be continued…

Back to Resources

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *