Boek 1 – Die Lyn – Voorwoord

Boek 1 – Die Lyn

‘n Huldeblyk aan die Skrywer

Dit is nie aldag dat ‘n mens iemand teëkom op wie se verbintenis jy so kan vertrou nie, iemand wie se woord nog sy woord is.

Iemand, so opreg in die waarheid wat hy verkondig, met onwrikbare geloof, wat daardeur in staat is om die groot Waarheid van God te ervaar in eenvoudige opregtheid. ‘n Man wat dit durf waag het om die twyfelagtige metodes van die praktiserende ‘Christenskap’ te bevraagteken en voort gegaan het om te bewys dat God geen leuenaar is nie.  In der waarheid, verder gegaan het en bewys het dat God se Woord die waarheid is en dat Sy beloftes in geglo kan word. En glo dat ons bedoel is om altyd te lewe in die ‘Guns van God’.

So ‘n man is Ron van Zyl. ‘n Baie talentvolle kunstenaar in wie God die verstommende gawe geplaas het om Sy Waarheid op ‘n unieke wyse te verklaar en uit te lê. ‘n Man van integriteit, wat sy God van naderby ken en gereeld saam met hom wandel. ‘n Man wat deurentyd van die Groot Skrywer van sy werk, hoor.

Moontlik die grootste vermeldbare eienskap van Ron is die toewyding waarmee hy sy kinders onderrig en leer van ‘God se Beginsels van die Lewe’. Die bewys hiervan kan gesien word in die lewens van Yvonne en hul kinders, Michell en Aldo, wat elk op hul eie wyse, die paadjie saam met God stap, op die fondasie wat deur hul man en vader gelê is. Wanneer gaan die res van ons ooit die kuns aanleer van sulke onbelemmerde, Christelike integriteit?

Vir my is dit ‘n groot eer om betrokke te wees met die produksie van hierdie ‘Kunswerk’.

Dit is (as ek dit mag sê) met groot trots dat ek my so bevoorreg vind om hierdie werk,

Die Lyn deur Ron van Zyl

aan u te bring.

Wees geseënd deur die ‘God van die Heelal’ terwyl u hierdie ‘kunswerk’ geniet.

Dankie Ron,

Nils Gregersen      

VOORWOORD

Hierdie boek is heeltemal buitengewoon. Dit is die lewenstaak van ‘n man wat as kind, ‘n visie van God en Sy Heerlikheid gehad het. Nodeloos om te sê, sy wedervaringe is nooit verstaan deur diegene rondom hom nie, veral nie gesien in die lig van toendertyd se ‘menslike persepsies van die bonatuurlike’ nie. Gevolglik is hy deur sy meerderes die swye opgelê sodra hy oor sy ervarings met God gepraat het. Maar die visie het nooit vervaag nie, tewens dit het met die tyd net duideliker geword.

Hierdie boek is nie ‘n lang, uitgerekte outobiografie nie, maar vertel eerder op ‘n praktiese, op die man af, Bybel-gegrondveste wyse van ‘n lewenswyse wat gely word deur ‘n gesin wat bewys het hulle kan leiding neem, sonder om gebuk te gaan onder die druk van hedendaagse stres en norme van die gemeenskap.

Hierin sal u hul storie interessant, boeiend en vinnig bewegend vind. Maar u kan dit nie vinnig lees en ten volle verstaan nie. Daar is eenvoudig net te veel inligting. U sal hierdie boekie altyd byderhand wil hou en as ‘n gereedskapstuk gebruik, om aan almal wat u ontmoet, die ‘Evangelie van God se Koninkryk’, aan die hand van die baie skilderye wat deur die skrywer verskaf is, te verduidelik. Hierdie skilderye en beelde is deur Ron, onder die leiding van God self, gemaak.

Vir die eerste keer het ons, as Christene, nou prente van die Geesteswêreld wat ons geloof bewys en bevestig dat ‘n ‘diepe kennis’ van ons besit neem as ons, ons lewens vir Jesus gee. U kan dit nou deel met u geliefdes en diegene wat u nooit vantevore kon bereik nie.

U sal nou saam met almal wat reeds Die Skoen besoek het, hul bevindings kan bevestig en getuig dat die openbaringe slegs van God self af moes kom. Geen mens kan self hierdie dinge weet, tensy dit vanaf God direk, ontvang is nie.  

Na baie jare se wag, kan ons nou uiteindelik sê dat God vir Ron van Zyl en sy gesin op ‘n merkwaardige wyse gebruik het om ‘n visionalisering te skep, wat net met een woord beskryf kan word nl: Uniek.

INLEIDING

DIE KUNSTENAAR SE STORIE

As ‘n seuntjie van ongeveer vyf jaar oud, het my moeder my ‘n Bybelstorie vertel. Die een van Samuel wat as seuntjie, die stem van God gehoor het. My moeder het my vertel dat ek ook my lewe vir Jesus kan gee en dat Hy dan ook met my sal praat. Ek het op my knieë gegaan en nadat ek my lewe vir die Here gegee het, het ek hierdie hoë plek gesien. Dit het die kleur van goud gehad en Jesus was daar. Dit was gevul met blydskap, liedere, vreugde en vrede. Dit was ‘n plek waar jy enigiets kon kry, wat jy ookal benodig het. As ‘n vyfjarige het ek gedink dat almal van die plek geweet het, daarom het ek vrylik en die heel tyd daarvan gepraat. Uiteindelik het my moeder my vasgetrap en gevra: ”Waarvan praat jy?” Ek het haar vertel:  “Dit is die prentjie wat ek gesien het toe ek my lewe vir Jesus gegee het. Dit is hier in my gedagtes!”.

Sy was baie ontsteld en het my vertel om dit nooit weer te doen nie, want dit is meditasie, en meditasie is van Oosterse afkoms, dat dit direk van die duiwel af kom, ensovoorts. My moeder het uit ‘n baie streng gelowige agtergrond gekom, maar het min of geen begrip van die ‘Geestes realm’ gehad nie. Daarom was enige ervaring wat vir haar ‘bonatuurlik’ geklink het, direk van satan af en nie God nie.

Maar ek het steeds almal wat ek in my lewe raak geloop het, gemeet aan dit wat ek daardie nag, as kind gesien het. Toe sy my eenkeer saamvat kerk toe, het ek daar niks gesien of gehoor wat vir my hoegenaamd gelyk of geklink het soos dit wat ek daardie nag gesien het nie. Die hemel vol vreugde, liedere, geluk en vrede! Godsdiens glad nie!

Sonder om enige substansie in die alledaagse lewens van die gewone mense rondom my te vind, het ek my geboortedorp, Kaapstad verlaat om my eie spasie te skep. Ek het my gaan vestig in die Oos Transvaal, wat nou ingesluit is by die Limpopo, waar ek die eensame lewe van ‘n kunstenaar geleef het. In ‘n plattelandse boeregemeenskap is ek geïgnoreer en afgemaak as eksentriek.

Op die ouderdom van 24 het ek besluit om al my talente en my lewe aan God die Vader te wy. Ek het my by my broer, wat ‘n sendingstasie in Limpopo het, aangesluit en daar het ons saam ‘n Bybelbeeld-Tuin as toeriste-attraksie gebou.   

Dit is eintlik net logies dat ‘n kunstenaar wat die heeltyd in die teenwoordigheid van die Heilige Gees lewe, in staat sal wees om deur middel van sketse, skilderye en beelde, die Geestelike realm te kan uitbeeld. Maar dit was eers in 1974, negentien jaar na my eerste visie van ‘Hemelse Plekke’ as seuntjie, wat ek deur God toegelaat is om onder instruksie en leiding van die Heilige Gees, die ‘Geestes Wêreld’, deur my kuns bloot te stel.

 My eerste probeerslag was ‘n beeldhouwerk teen ‘n rotswand van vyftien meter hoog. Dit is voltooi op die ouderdom van ses en twintig en ons het dit ‘Die Hel’ genoem. My broer Paul het my gehelp om ‘n steier te bou en agter ‘n skerm, om nuuskieriges weg te hou, het ek van bo begin met die werk. As gevolg van die skerm, kon ek nie terugstaan om perspektief van die werk te kry nie. Die skerm was egter noodsaaklik, want toeriste het my dikwels uit die werk gehou. Die nadeel was dat ek nie die werk op ‘n afstand kon oordeel vir eenvormigheid of balans nie.

Terwyl ek een naweek weg was, het my broer die steiers afgebreek en gesê, dat teen die tempo wat ek werk, ek dit nooit gaan klaarkry nie. Deur dit te doen, het hy die voltooiing van die taak afgedwing. Toe ek terugkeer, het ek tot my verbasing gesien dat alles in perfekte balans en verhouding is. Die figure aan die bokant was presies sewe voet ses duim (2,3 meters) en die aan die onderkant presies vyf voet ses duim (1,7 meters). Dit het sommer vanself so gebeur en toe het ek tot die besef gekom en die hand van God in my werk gesien.

Hierdie rotswand is waar ek van die frustrasie, deur nie die hemelse plek wat ek as kind gesien het te vind nie, ontslae geraak.

Dit het twee jaar geneem om Die Hel te voltooi en in die tussentyd het ek anatomie bestudeer. Dit het my egter gedwing om die skriftuur te bestudeer om uit te vind wat die hel is. Uit hierdie studies het interessante onderwerpe om te skilder, gekom.

Die Hell – 20 km Noord van Ohrigstad op die R36 hoofpad, oppad na die Eggo Grotte

Die meeste mense is bekend met die Bybelstories en my kuns het geblyk ‘n goeie manier te wees om kontak met die toeriste te maak.

Vreemd, daar was nie ‘n enkele persoon wat bereid was om te sê wat hy hiervan dink nie. Soveel so, dat ek naderhand gedink het dat ek hiermee aanstoot aan mense gee, tot een oggend toe my vader kom kyk het hoe dit lyk. Hy het net gesê: “Dit is ‘allright’”. Hy was ‘n baie harde man en as hy gesê het, iets is ‘allright’ dan is dit presies wat dit is. Dit was die naaste wat ek gekom het aan enige wyse van ‘n kompliment. Maar ek het weer God se hand hierin gesien, ook Sy waarskuwing aan my, dat as ek vir Hom wil werk, moet alle eer Hom toekom, Hom alleen. Ons Groot en Genadige God was besig om my te beskerm van die euwel, TROTS. 

Twee jaar later, in 1978, is ek en Yvonne getroud en ons het vir ons ‘n huis gebou. Saam met my vrou het ons alles wat ons nodig gehad het, eiehandig ‘geskep’. Saam het ons geleer om in geloof te lewe. Van die berge rondom ons het ons die klip om die huis te bou en die hout vir die beelde gaan haal. By wyse van harde werk en die geloof in ons Skepper, die Almagtige God, is ons deur moordende woestyne van die lewe, deur die Heilige Gees gelei. Ons het ontdek dat jy alles wat jy benodig, van die Groot Verskaffer, die Vader, die Almagtige God, kan kry.  

Die eindresultaat was, dat ons as gesin, Yvonne, ekself en ons twee kinders, Michell en Aldo, ‘n toring van krag geword het vir diegene rondom ons, in ‘n wêreld waar antwoorde opgedroog het. Deur die verduidelikings en lewende getuienisse wat hierdie boek bevat, sal u as leser ook uitvind hoe om enigiets wat u benodig, te kry. Ja, enigiets wat jy benodig sal deur die Vader, die Almagtige God aan jou verskaf word. Dit is Sy begeerte vir jou!

Dit is die ‘Hart van God’, soos opgesom in die woorde…. “Vader van barmhartigheid” (Strong’s 3628) en “die God van alle vertroosting” (Strong’s 3874). Ook 2 Kor 1:3.

Ondersoek dit vir jouself. Die woorde ‘barmhartigheid’ en ‘vertroosting’ word somtyds vertaal as net ‘genadige’ soos in ‘genadige Vader’ of ‘genadige God’, maar dit dra inderwaarheid die hart van God en sluit onder andere in die volgende:

Bejammering – soos in ‘God bejammer ons in ons omstan-dighede’.

Medelyde – soos in ‘God ly mede (met ons) in ons omstan-dighede’.

Begeer – soos in ‘God begeer om ons alle goeie dinge te gee’.

Is dit nie hoog tyd dat ons die ‘Hart van Vader’ vasvang, wie in elk geval die Almagtige God is, en dan voortgaan in ‘n ‘Lewe’ in en leef in ‘Sy Begeerte’ vir ons nie?

Jy sal baie gou die algemene foute wat ons as Christene maak, agterkom. Jy sal nie langer jou seëninge in die kerk gaan soek nie, maar ‘n seëning vir die kerk word.

Die enigste vereiste wat van jou verlang word, is om Die Here Jesus Christus met jou hele hart te ken en te verstaan.

Die doel van hierdie boek is om jou stap vir stap daarnatoe te neem. Ons sal jou daarnatoe neem met behulp van reekse beelde, skilderye, tekeninge, stories en praktiese wenke vir toepassing en dan toekyk hoe jy ‘ hoog en vry’ loop terwyl jy alle eer aan God gee.

Ons is nie gelowig nie! Ons het ‘n verhouding met God! Gelowigheid is nie Vryheid nie!

As iemand ons gelowig noem, beskou ons dit nie as ‘n kompliment nie. Die Sadduseërs en Fariseërs was gelowig en hulle is deur Jesus gehaat as gevolg daarvan. Hy het hulle skerpioene en adders genoem. Ons het ‘n verhouding met Jesus Christus en Sy Gees leer ons alles wat ons nodig het om te weet. Dit is dan ook ons gebed vir jou.

Geniet asb. hierdie boek as ‘n openbaring van die ‘groter dinge’ wat vir ‘n ieder en elk van ons beskikbaar is in Christus Jesus.

Ron van Zyl.

Back to Resources.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *