Boek 8 – Die Gewete

VOORWOORD

Die boek is geskryf deur ‘n kunstenaar wat sy lewe op vyfjarige ouderdom vir die Here gegee en die hemel vir ‘n oomblik gesien het.

Hy was van daardie dag, bewus van die verskille tussen die aardse bestaan en dié van die hemel en het homself ten doel gestel om ‘n manier te vind, waarin die eenvoudigheid van die hemel verduidelik kon word, sonder dat hy geweet het hoe dit gedoen kon word. Op die ouderdom van 24 jaar (na ‘n 6 jaar loopbaan as matroos in die Suid-Afrikaanse Vloot) het  hy homself in die Oos-Transvaal, as kunstenaar en beeldhouer gevestig. Dit is op die toeristeroete geleë, wat vandag bekend staan as die Panoramaroete.

Geselsies met toeriste het altyd gelei tot die vraag: Waarom help God ons nie? En Hoekom verhoor Hy nie ons gebede nie?  Ons is tog goed, waarom help Hy nie my kinders nie? “Ek vra die Here so mooi.” het ‘n ou dame eendag, met die traanbeloopde gesig gesê. Dan is daar die siekes vir wie daar geen raad is nie: “Hoekom gee die Here my kanker en soortgelyke verskriklike siektes?” Hierdie tipe vrae het Ron geweldig gehinder, totdat hy die antwoorde, op wonderbaarlike wyse, by Die Skepper self gekry het.    

Die doel van hierdie boek is juis om u, die leser te help om ook antwoorde op u kwelvrae te kry.                                                 Ron van Zyl het met Yvonne getrou nadat  hy die ‘Helkrans’- beeld  teen die kranse van die berge by die Eggo Grotte voltooi het. Daar het hy vir haar ‘n huis gebou en die twee het saam besluit om in geloof te lewe sonder enige kerkverband en sodoende al die vrae omtrent die Godheid beantwoord te kry. Die idee was dat hulle op ‘n geestelike eiland woon en elke persoon moet soveel tyd as moontlik by die Here spandeer sodat persoonlike openbaring kan invloei en getuienisse tot stand kan kom.

Hulle het geen elektrisiteit of water gehad nie, maar was baie gelukkig. Ron het beelde gemaak en Yvonne het haar huis se klip- vloere blink gepoets en huis-huis gespeel terwyl sy leer kos maak het, wat heelwat later baie handig te pas sou kom in hulle gastehuis. 

Een oggend, 3uur, terwyl Ron buite gesit het, sien hy, terwyl hy na die sterre kyk, asof in ‘n droom, ‘n grot. Dit was kamers wat na mekaar toe lei en beelde belig met veelkleurige ligte en ‘n stem wat alles verduidelik. Hy het gesien dat mense ingaan met ‘n frons en uitloop met ‘n glimlag. Dit het gebeur nadat hulle die eerste huis moes afbreek, na misverstande met die grondeienaar. ‘n Ander vriendelike boer daar naby, het vir hulle grond gegee om op te bou en te leef. Hier het hulle ‘n houthuis gebou en vir die eerste keer water gehad. Hier het hulle ‘n padstalletjie gebou om hul

kunsprodukte te verkoop en hulle geloof beoefen om groter dinge te bereik en meer mense te help. Yvonne het geduldig geluister na die probleme van mense by die stalletjie. Hier het hulle die raad aangebied wat hulle bekom het deur in die geloof te lewe. Op praktiese manier het hulle getuienisse gelewer om mense te versterk. Dit was baie nodig in ‘n afnemende ekonomiese klimaat waar mense hulle werk verloor het.

 Die kinders, Michell en Aldo, het groot geword in hierdie unieke omstandighede. In 1990 koop die Van Zyl-gesin die grond waarop Die Skoen vandag staan. Die kinders was toe nog baie jonk, maar het hulle deel gedoen aan die bou van al die geboue wat nodig was. Die Skoen is ‘n landmerk, en die ou plaaswoning word toe ‘n gastehuis. Verder bou hulle ‘n woonhuis en geriewe vir die gaste uit lokale dolomietklip. Ron doen alles self en Yvonne beman die Skoenwinkel waar die beelde verkoop word om alles te finansier.

Die gesin het geweldig baie stories om te vertel van hoe God sorg. Maar die boek handel nie oor hulle lewe nie, maar oor hoe hulle die openbaringe ontvang het, wat ons nodig het sodat ons die Bybel beter kan verstaan en die beloftes kan aanwend in ons eie lewens.

Toe alles klaar gebou is en daar geen skuld meer oor was nie, het die gesin ervaar dat dit tyd was vir die grot.  Ron was tot die dood toe moeg van al die fisiese bou en beelde kap, maar kon nie wag om te begin nie. Saam met sy twee getroue ou arbeiders het hulle die grot aangepak. Die grootte van die kamers was beperk deur die hoeveelheid finansies beskikbaar. Tot Ron se teleurstelling was die eerste kamer slegs groot genoeg vir twaalf mense. In sy visie het hy ervaar dat dit groter sou wees met heelwat elektroniese hulpmiddels. Maar die Here het niemand gestuur om te help nie, en so is die grot slegs dit wat hulle persoonlik kon vermag.

Die grot is drie-en-‘n-half jaar later voltooi en Aldo as  dertien

jarige neem die eerste toer deur die grot, Michell (17) tweede en Ron die derde. Yvonne beman die winkel en besluit wie deur die grot kan gaan. So het hulle al duisende mense deurgeneem en almal wat die ondervinding meegemaak het, vertel opgewonde van hulle persoonlike geestelike groei. Tot nou, in 2010, tydens die skryf van hierdie boek, ervaar ons daagliks wonderlike getuies.

Dit was baie vermoeiende werk en alles was nie maanskyn en rose nie. Soos ons almal al egter ervaar het, sal jy nooit in staat wees om almal tevrede te stel nie. Baie van die mense val die gesin aan vir dit wat hulle verkondig. Ander laai weer hulle laste af op die gesin. Daar was nooit genoeg geld om ander mense in diens te neem nie en so is dit net die vier van hulle wat alles self moet doen.

Eventueel, het hulle saam besluit dat hulle maar die plek sal verkoop, want almal was tot die dood vermoeid. Michell en Aldo was só oortuig dat die werk by die Skoen voltooid was, dat sy in Engeland en hy in Johannesburg gaan werk het. Die eiendom het egter nie verkoop nie en stelselmatig keer hulle terug huis toe waar die Here die LYN aan hulle openbaar het.

 Die ‘Lyn’ bewys die belangrikheid van die gewete en die wyse hoe om dit in tekeninge te verduidelik, sodat almal dit kan verstaan.

As gevolg van jare se persoonlike studie, het Ron boeke begin skryf wat opmekaar volg, in dieselfde orde as wat hy openbaringe gekry het. Hierdie boeke druk hulle ook self en is beskikbaar in hulle winkel by Die Skoen.

Alhoewel daar akademiese erkenning was in die vorm van grade vir Michell en Aldo, selfs ‘n doktorsgraad vir Ron, as gevolg van hulle studies, het dit nie gekom omdat hulle ander doktrines en teologië van Bybelskole studeer het nie. Hulle is beloon vir die persoonlike openbaringe wat hulle ontvang het. Wat alles bewys word deur die Woord, wat nou so maklik toeganklik is op rekenaars. 

Die gesin is op ‘n besondere wyse deur die Heilige Gees gebruik omdat hulle gewillig was om hulself heeltemal oop te stel vir toerisme en elke Jan-rap en sy maat se oordeel. Hulle is bespot, afgekraak, beskinder, daar is op hulle gespoeg, hulle is verneder en gehaat. Te midde van dit alles, het hulle vasgestaan en geglo dat God ‘n magtige werk verrig en dat die hele wêreld daardeur gehelp sal word.

Deur hul werk en kontak met mense uit alle vlakke van die samelewing, het hulle geweldig baie ondervinding opgedoen en kan vandag daarop aanspraak maak dat hul kennis van die verskillende sienings van mense, wat betref, godsdiens-idees, doktrines en argumente wat daarmee gepaard gaan, van die grootste, in die veld is.

Met hierdie ryk bron van kennis skryf hulle vir u oor holistiese genesing, die belangrikheid dat elke persoon aan heiligmaking deel moet hê. Hierdie gesin gee vir u die kort paaie, want hulle het alles beproef en het die baanbrekerswerk gedoen, die foute gemaak, maar tog die weg na geestelike waarheid gebaan.

Hulle het van die Here ontvang, die openbaring van die gewete, wat bewys word in die grot waar, onwetend, ‘n lyn ingebou is deur die Heilige Gees. Sonder dat hulle geweet het, het hulle vir tien jaar duisende mense deur die grot begelei en niemand het ‘n benul gehad dat dit oor die GEWETE gehandel het nie.

Hierdie boeke het gelei tot Ron en die kinders se grade. (Beide Aldo en Michell het hul teologiese grade in 2008 verwerf aan die Universiteit van Common Wealth en Trinity waar Ron se boeke deel van hul studies was en beide staan tans by Die Skoen in diens van die Here). Maar so min mense het tyd om dit alles te bestudeer en dit is hoekom hierdie agtste boek, DIE GEWETE, in die onderwerp ‘Die Lyn’, tot stand gekom het. Net ‘n vinnige insig in die fondamentele kennis wat alle Christene behoort te hê. Vir dieper insig moet u die hele reeks bestudeer en u sal glad nie spyt wees nie. Daar is werklik vaste spyse vir die persone wat die kennis van God soek. Dit is natuurlik die opdrag. Ons moet eers die Koninkryk soek, sodat alles bygevoeg mag word.

Hier volg Michell se weergawe van die ‘lyn’-skildery en daarna sal Ron sy bydrae lewer.

HOOFSTUK 1

DIE SKILDERY

Die Lyn deur Michell

Dit was ‘n geweldige interessante en ook lewensveranderlike ervaring om saam met my gesin in hierdie skildery, in te groei.  Ek stel ook voor dat u, die leser, die moeite doen om ook self die pad te stap wat ons gestap het om hierdie skildery se dieptes te verstaan. Dìt wat ons dusver verstaan, want ek dink nie dat ons al klaar is met hierdie skildery nie.  As ‘n inleiding op my eie bydrae in hierdie boek, wil ek u graag herinner daaraan, dat tussen ons drie gidse, wat nou vir elf jaar lank reeds begeleiding in hierdie spesiale Alfa Omega Grot doen, het ons aldrie in die tussentyd self gegroei in ons eie tipe bedienings. Ons het aldrie ‘n unieke en eie manier en ook vlak van bediening ontwikkel deur die jare. Ek self hou daarvan om alles so eenvouding as moontlik te sê sodat dit kan aanklank vind by selfs die mees eenvoudigste denkers en ook kinders.  En dan vra ek u ook: Lees asb die ‘gees’ van ons skrywe raak.  Geeneen van ons bedoel om u, of iemand, te na te kom, te ontstel of selfs te oordeel in hierdie boek nie.  Ons skryf almal ons toere, wat ons daagliks aan besoekers oordra, neer. Selfs die toere wat ons oor die afgelope elf jaar gedoen het is getrou neergeskryf. Maar meer belangrik, ons skryf ons eie ervarings neer, van die pad wat ons elkeen self sover met God gestap het in hierdie proses van groei in ons persoonlike verhoudings met die Vader self.

Dit het alles begin met die Psalms.  Ons was nog altyd groot aanhangers van Psalm 1.  Maar ek dink nie dat ons werklik die Psalm verstaan het totdat ons uiteindelik begin het met hierdie skildery nie.

Die berg in die middel (A) van die skildery, het ons uiteindelik geleer, is die berg Sion.  Psalms is ook vol van hierdie berg Sion.  Niemand het dusver Sion verstaan nie want Sion, in hierdie sin, is die geestelike berg.  Dit is die berg wat swaarkry voorstel.  God wil hê dat ons oorwinnaars of konings moet wees van dié berg Sion.  My vraag is dan, waarom word ons nie sommer dadelik, wanneer ons gebore word aan die voet van die berg geplaas sodat ons dadelik kan begin klim nie?

In plaas van dadelik die berg te klim, word ons gebore by die Psalm 1-boom (E). (Links in die middel van die skildery).  Net bokant die boom is God se hand in die wolk (D). Dit sê vir ons dat ons gebore word uit God uit en deur Sy hand, word ons in die wêreld in gebore en nie daarop nie. (Jer 1:5; Ps 139:15; Jes 94:1)  Let op dat God se hand wolke is, ons weet dat wolke uit water bestaan en dat God se Woord water is.  Net soos ons in die baarmoeder in water gegroei het, is ons gevorm deur God se woord totdat ons gebore word in die aarde in.  Ons moet eers leer om ‘n Psalm 1-boom te wees voordat ons kan aanskuif na Psalm 2 toe.  By die Psalm 1-boom leer ons dat ons die boom is en dat ons by die water, wat die woord van God is, geplant is. En omdat ons kennis het van die Woord van God kan ons aanhou vrug dra al is daar droogte en swaar tye.

Ps 1:3:  “En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”

Daarna leer ons toe wat Psalm 2 sê.  In my eie woorde sê Psalm 2 dat God Sy koning (ek), gevestig het bo-op berg Sion (B), en Hy het my ‘n ystersepter gegee waarmee ek die wêreldse dinge (G) sal verslaan. Daar waar die kruis staan bo-op die berg, dis waar ek ‘n koning moet wees.  Maar daar is ‘n woestyn (I) tussen Psalm 1 en Psalm 2. En ons dink dis die kortpad om gou-gou ‘n koning te word, deur die woestyn… maar daar kry ons swaar.

Ps 2:6 – 9:  “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.  U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.”

Ek vra toe die Here op ‘n keer: “Waarom is dit so moeilik in die woestyn?” Ek leer toe dat die Bybel vertel ook dat die tye in die woestyn, vir die Israeliete en ook vir Jesus, moeilike tye was. Uit ondervinding weet ons ook dat mense verdwaal in die woestyn. Die Here het toe vir my geleer, ons word nie sommer dadelik aan die voet (K) van die berg geplaas om dadelik die berg uit te klim nie, want Hy laat ons gebore word by Psalm 1 sodat ons self kan kies of ons die berg wil klim of nie.  Maar Hy maak die woestyntyd in ons lewe dan ook moeilik, want Hy wil ons nie eintlik rêrig in die woestyn hê nie. God gebruik Sy Gees om ons die hele tyd te lei en ook hoër, en nader aan Hom te roep.  So daar in die woestyn sien u dan die hand van God vir ‘n tweede keer (J) en die storms onder die hand wat weer eens soos wolke lyk.  Alhoewel elke persoon deur die woestyn moet gaan, as deel van die groeiproses, is ons nie veronderstel om in die woestyn te bly nie. Die weerlig onder die hand van God sê eintlik vir my dat God ons half uit die woestyn uitjaag om af te val daar ver agter sodat ons onder by die voet van die berg kan begin klim.

Die linker onderkant van die skildery het twee voorbeelde van verdwaalde mense (G en H).  Die eerste voorbeeld is die groep mense wat as ‘waarheid-soekers’ bestempel word (H).  Hulle wil graag die waarheid hê, maar hulle verstaan ook nie die Woord (water) van God daar by die Psalm 1- boom (E) nie, dus gaan soek hulle toe maar na ander diep waarhede, daar by die diep waterval onder die berg (H) van Sion.  ‘n Voorbeeld hiervan is soos die mense wat in Oosterse gelowe gaan dolwe of in filosofie betrokke raak. My pa het my vertel hoe hy ook een van hierdie mense was. (Hy was ‘n hippie in die vloot in die 1960’s en op die ou einde ‘n student in filosofie).

Dan is daar die tweede groep mense. Hulle woon in die mooi huis met die mooi kar (G). Hulle bly naby die Psalm -1 boom en hulle gaan darem Sondae kerk toe (na die water toe) in die hoop dat hulle die Woord van God eendag sal verstaan, maar die res van die tyd moet hulle die brullende leeu baklei.  Die probleme raak te veel en die kerk kan nie hulle vrae antwoord nie.  Die mannetjie wat weergegee word in die skildery moes eventueel saans kroeg toe hardloop, sodat hy ten minste net ‘n goeie nagrus kan inkry. Die probleme kom saam met die mooi materiële dinge maar eindelik verloor die outjie sy kop. (links onder in die hoek) Hoekom sy kop? Hier begin ons toe so stelselmatig leer dat die mind (denke) van ‘n mens die hele tyd onder aanval is. 

Hierdie twee voorbeelde is maar net hedendaagse voorbeelde van mense wat die woestyn beleef. Dit maak nie saak watter tipe woestyn jy beleef nie. Soos ek reeds gesê het: God se hand (J) is oor jou in die woestyn. Van die dag af toe jy jou lewe vir God gegee het, daar by die water, by die Psalm 1- boom, sal hy jou nooit laat gaan nie.  Hy sal jou altyd op een of ander manier terug- lei na Hom toe, en dan nog jou swaar tye gebruik in jou lewe.  So  kom ons eendag tot die besef dat daar meer in hierdie lewe is as net die mooi goed en dat die ware waarheid waarna ons gesoek het net in God te vinde is, en ons besluit toe om die berg te klim.  Ons daag op aan die voet van die berg (K), en ons is reg om te begin klim. 

Hier heel onder aan die voet van die berg is die kerk.  In die kerk ontmoet jy al hierdie groen goggas.  (Prentjie regs) Onder andere is daar ‘oordeel’ (1), ‘siekte’ (2) en ‘beskuldiging’ (3). Hierdie dinge is in die kerk, en hierdie dinge is die rede waarom so baie mense, kort nadat hulle weer die Here gevind het weer terugkeer na hulle ou leefstyl, omdat hulle geen verskil sien in die kerk nie, of sommiges omdat hulle aanstoot vind in hul verhoudings met ander mense in die kerk.  Dieselfde duiwel is maar daar ook.  Maar gelukkig vorder dié wat uitgehou het na die tweede vlak, halfpad teen die berg op, (L).  Omdat ek as kind nie grootgeword het in die kerkstruktuur nie, kon ek nie werklik die rede vir die verskillende stappe hier teen die berg verstaan nie.  Toe ek my pa vra wat die halfpadmerk hier teen die berg dan is, toe sê hy dat dit stel die ‘charismaties en pinkster’-vlakke voor. Ek het nie eintlik verstaan wat hy daarmee bedoel het nie, maar ek het gou agtergekom dat wat hierdie tipe kerke anders maak as die ander is maar grotendeels die manier waarop hulle lofprysing doen.  (Oppas, moet my asb. nie verkeerd verstaan nie, ek deel net my siening uit die oogpunt van ‘n onervare kerkganger). Ek het besluit om dit te probeer en in my kamer het ek my lofprys-CD in die radio gedruk en toe ek by die derde liedjie kom, terwyl ek in danksegging en lofprysing staan voor God, sien ek, hoe ek hoog bo-op ‘n berg staan en die kruis is ook daar by my.  Ek was verslae…hier staan ek bo-op die Sionberg en ek weet nie wat ek hier doen nie!  Dit was dan so maklik! Hoekom loop almal dan daar onder rond as dit so maklik is om tot hier bo op die berg te kom?

Nadat ek die dinge met my pa bespreek het, het hy begin vertel dat volgens hom, is hierdie berg in die skildery nie net Sion die geestelike berg nie, maar dit kan Golgota ook wees omdat die kruis bo-op die berg staan.  Na ‘n lang redenasie het ons uitgevind dat die woord ‘Golgota’ beteken ‘skedel’.  En as u nou kyk na die skildery en u verbeel uself dat die kruis bo-op ‘n skedel staan, dan sal die volgende vers verduidelik word:

Lev 17:11:  Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.

In my eie woorde: Die bloed van Jesus op die kruis, het geval op die skedelkop, – dit is vir die vergewing van jou siel.  Die bloed is vir jou kop! Vir jou gedagtes, jou gewete, jou denke! Maar die eintlike woord wat ek wil gebruik is mind!  Die Afrikaanse woord vir ‘mind’ is ‘siel’.  (Vir die doel van hierdie boek en ter verduideliking maak ons deurgaans gebruik van die woord mind, waar van toepassing.) Maar min mense weet wat die siel is. Iemand het eendag gesê dit is in sy groottoon!

My siel is die deel van my wat krag besit, dit is dié deel van my wat die wêreld wil hê en dit is die deel van my wat God ook wil hê.  My siel is so belangrik vir God dat hy Jesus laat sterf het op Golgota, die skedelkop, om te sê hy soek my mind!  Maar wanneer ek daaroor dink, besef ek dat my gedagtes is die een plek wat ek nie vir God wil gee nie want dit is mos myne. Dis privaat. Ek mag mos dink wat ek wil. En God sê nee, Hy wil jou gedagtes bewoon. Ons moes toe noodgedwonge ‘n studie maak van die woord ‘siel’ sodat ons dit kon verduidelik aan mense.  Die tweede maal wat hierdie woord ‘siel’ gebruik word in die Bybel is in Genesis toe God asem in Adam in geblaas het en Adam ‘n lewende siel geword het.  U kan die hele studie van die siel in my pa se tweede boek gaan nalees, maar in kort: Die woord ‘siel’ beteken volgens Strongs: Wil, intelek, emosie, wellus en dier.  Hierdie is nie mooi dinge nie.  Die woord ‘asem’ soos in Genesis beskryf as die asem van God word vertaal as: siel en gees. Na aanleiding van ons studie het ons tot die slotsom gekom dat God in ons ingeblaas het die vermoë om deur middel van ons gedagtes (mind) met God te kommunikeer en dus geesvervuld te wees. Maar hierdie selfde gedagtes kan ook donker en negatief wees.  Die slotsom is dus dat as jy ‘gees’ is, beteken dit jou gedagtes is gevul met God, maar as jy ‘siels’ is, beteken dit jou gedagtes is donker.  En om hierdie rede moet die siel gered word.  En slegs die bloed van Jesus kan jou siel (mind) red!

Hierdie kennis van wat die siel is, het ons eers heelwat later geleer.  So voordat ek hiervan geweet het, wou ek dan weet:

Wat het dan gebeur dat ek sommer so vinnig bo-op die berg kon staan? 

U sien; in lofprysing word jou hele mind vol met Jesus, die fokus is Jesus. Dit veroorsaak dat jy ‘n koning van die berg word en bo-op die berg, by die kruis kan staan.  

Hebreërs 12 praat van hierdie berg.  Eintlik kom almal bymekaar bo-op die berg wanneer ons gedagtes gefokus is op Jesus. Al die verskillende kerke kom hier bo op die berg bymekaar wanneer hulle vergader, want almal begin met lofprysing en aanbidding wat help om die mense se gedagtes te fokus op Jesus, en dit maak hulle konings van die berg.

Heb 12:22-24:  “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.”

 Dit is glad nie moeilik om ‘n koning van die berg te wees nie.  Ons maak net ons gedagtes vol met Jesus – die probleem is egter om heeldag ‘n koning te bly! Op daardie stadium het ons net geweet dat lofprysing en aanbidding of selfs om aanhoudend in jou taal  te praat, jou ‘n koning bo-op die berg sal hou. ‘n Ander manier waarop ons dit ook verduidelik het, was dat jy moet Jesus ‘awe’.  Dat jy Hom moet eerbiedig wees in alles wat jy doen. Maar ons het agtergekom dat dit baie moeilik is en ek was versteld met die hele ding, want hoe kan ek ‘n koning wees in die môre, nadat ek my stiltetyd gehou het, maar twee ure later baklei ek met my broer, en dan bevind ek maar net weer myself aan die voet van die berg.  Dieselfde geval met kerktoe gaan.  Sondag bring die vergadering van die heiliges my op na die berg toe, want gedurende die diens ‘awe’ ek Jesus, my mind  is vol van Jesus, maar na die diens is ons net weer terug onderaan die voet van die berg. Dit het ons baie lank gevat om te leer hoe om heeldag ‘n koning te bly.  Iets soos 3 maande later leer ons toe vir die eerste keer hoe om heeldag ‘n koning te bly. My persoonlike ondervinding is soos volg:

Op daardie stadium het ek deur ‘n slegte tyd gegaan en ek was so gefrustreer, want ek was heel bewus daarvan dat ek meer tyd aan die voet van die berg spandeer het as bo.  En die môre is ek van diens af en ek gaan sit toe in lofprysing by die kruis. Ek was vasbeslote om daar te bly totdat God my help.  Later het ek nie meer geweet wat om te doen nie en begin toe al smeek. Naderhand daag Jesus op.  Hy vat my toe en tel my van die grond af op en hang my aan die kruis.  En al wat Hy sê is: “Ek is die deur en niemand gaan na die Vader behalwe deur my nie.” Hy druk my vas teen die kruis en laat my daar hang.  Hy sê toe dat ek moet my mind vir Hom gee dan hou hy dit veilig.  Ek het nie verstaan nie, maar ek gee toe oor op die kruis daardie môre, en terwyl ek agteroor deur die kruis val word ek soos die asem van God en gaan in deur die kruis, binne in Jesus in.

Die volgende oomblik toe staan ek voor die troon van God en ek lyk toe soos die man in die skildery (O).  Jesus staan reg voor my en hy is besig om die wapenrusting  vir my aan te trek.  Toe hy klaar is, staan hy terug en gaan sit aan Vader se regterhand (soos julle hier in die skildery kan sien). Hy begin my toe was met sy bloed.  Dis waar ons moes leer dat die wapenrusting van Efesiërs 6 eintlik baie belangrik is, maar tog eenvoudig om te verstaan, want eintlik het ek nou vir Jesus aangetrek.  Elke stukkie van die wapenrusting is Jesus. Ek staan voor die troon van God. Vader kyk na my deur die bloed van Jesus wat van die kruis af drup, en waarmee ek gewas word. Hy kyk deur die wapenrusting wat ek aan het en eintlik sien God glad nie vir my nie maar, Hy sien Jesus, omdat ek nou net soos Jesus lyk.  Die volgende oomblik kom die Heilige Gees (wat hier in die skildery uitgebeeld is as die hare van God), en Hy kom sit om my heupe en sê:  “Ek is die waarheid en ek gaan jou gou ‘n les in geregtigheid leer.” (Borsplaat van geregtigheid).  Ek wou net protesteer en kla dat ek nie nou lus is vir lesse nie… en die volgende oomblik dwaal my gedagtes af en ek begin dink aan dinge wat ek nog vandag moet doen en oor wat ek sal kook vir middagete. Ek begin kyk na die horlosie, en my gedagtes dwaal weg na gister se dinge en terwyl al die gedagtes nog kolk, toe sê die Heilige Gees: “Jy is nou alweer onder aan die voet van die berg.” Ek wou net moedeloos word en dink, maar dan is dit onmoontlik om heeldag bo te bly, as ek nou al klaar weer onder is. Toe sê die Heilige Gees : “Sê net jammer en maak jou gedagtes weer vol met God.”  Ek maak toe so, keer terug na my lofprysing en onmiddellik is ek weer terug in my posisie voor Vader se troon.  Verbaas kyk ek na Jesus en vra hom hoe dit dan moontlik is dat ek net so vinnig weer kon terugkeer na hierdie posisie? Hy verduidelik toe aan my dit is omdat ek nie geregtigheid verstaan nie. Jesus verduidelik toe aan my dat as ek in die môre by die regte deur, die kruis, ingekom het binne-in Hom in, is ek nou die geregtigheid van Christus.  Geregtigheid beteken dat ek reg voor God staan.  Hier staan ek geklee in Christus, gewas met die bloed en dus lyk ek net soos Jesus, ‘n kind van God.  Daarom kan niks my wegvat uit hierdie posisie nie.  Ek is geregtig daarop om voor God te mag staan, die hele dag lank. Met die Heilige Gees se hulp kan ek nou heeldag lank gehelp word om terug te keer na my posisie voor God.  Maar môre-oggend sal ek weer deur die kruis, die regte deur, moet ingaan om weer heeldag bo, in Christus, te kan bly.

‘n Paar dae later kom my pa en vertel my dat hy ‘n droom gehad het. In die droom het God gesê ons moet na die horisontale

swaard in die skildery kyk.  Ons kyk toe na die horisontale swaard van die engel hier aan die linkerkant van die skildery. Na ‘n lang gewonder kom ons toe agter dat die swaard, presies in lyn met die horisontale balk van die kruis, waaraan Jesus se arms vas gespyker sou gewees het, is. Dit vorm dan ‘n lyn regdeur die middel van die skildery wat die skildery dan duidelik in twee verdeel. Die Koninkryk van Lig (Bo) en die Koningkryk van Donker (Onder).  Verder kry ons toe ook die volgende geskrif uit die Woord van God:

Heb 4:12:  “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”

Ons vra toe die Here oor hierdie skeiding tussen die twee koninkryke van lig en donker. Hy verwys ons toe na:

Kol 1:19 tot 20:  “Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis – ek sê deur Hom – die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.”

Dan tesame met  Kolossense 1 hierbo en ook Hebreërs 9 se verduideliking van hoe Jesus in die geestelike tabernakel ingegaan het om sy bloed te sprinkel as ewige offer, begin ons toe verstaan dat hierdie lyn, of skeiding, veroorsaak is deur die bloed van Jesus.  Ons word toe ook herinner daaraan dat God in Genesis alreeds die lig en die donker van mekaar geskei het. En toe het Hy gesê dat dit goed was. Die bloed van Jesus wat gestort is op die kruis bring vrede tussen die twee koninkryke.

Op hierdie punt kry ons nou perspektief.  Wanneer ons wakker word in die môre, word ons aan die voet van die berg wakker omdat ons donker is, en omdat ons vlees is. Die woord ‘vlees’ beteken in hierdie sin: “Donker Natuur”.  Maar die probleem is dat wanneer ons wakker word, begin ons soms dadelik bid, maar ons bid dadelik oor ons probleme.  Ons het nog nie eers ‘n koning geword van die berg nie, ons is nog nie eers geregtig voor God nie en ons bid al klaar oor die probleme.  Dit veroorsaak dat ons gebede geen krag het nie en meeste van die tyd is hierdie gebede onbeantwoord.  Nou het ons geleer dat as ons wakker word, begin ons lof en aanbidding, en in die proses klim jy dan die berg uit en kom staan voor die kruis.  Jy het nou vir Jesus as die senter van jou denke en jy is ‘n koning van die berg.  Deurdat jy na die kruis toe gekom het en jou gedagtes vol gemaak het met Christus, oorwin ons dan die berg, dus oorwin ek die eie-ek. Die berg is dus dan ek.  Ek is Sion. Die heeltyd lees ons in Psalms hoe God in Sion wil bly, dit Sy woning maak, en dat Hy Sion verlos en vele meer.  Hier plaas ek net ‘n paar skriftuurplasings oor Sion. U kan gerus hierdie studie oor Sion doen. Ek hardloop nou bietjie vooruit maar ek wil net noem: Die Stad is bo-op die berg. Dit sal u aan die dink sit. Onthou ons praat van geestelike dinge hier.

Ps 20:2:  “(20:3) Mag Hy u hulp stuur uit die heiligdom en u ondersteun uit Sion!”

Ps 48:2:  “(48:3) Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning!”

Ps 48:11:  “(48:12) Laat die berg Sion bly wees, laat die dogters van Juda juig oor u oordele.”

Ps 50:2:  “Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans.”

Ps 69:35:  “(69:36) Want God sal Sion verlos en die stede van Juda bou; en daar sal hulle woon en dit besit.”

Ps 102:21:  “(102:22) sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en sy lof in Jerusalem.”

Ps 126:1:  “‘n Bedevaartslied. Toe die HERE die lot van Sion verander het, was ons soos die wat droom.”

Ek oorwin die eie-ek deur, aan die kruis te gaan hang en te sterf in Christus.  Verbeel saam met my, jy hang aan die kruis net soos Jesus daar gehang het. Jou kop net mooi daar op die kruising van die twee kruishoute, en deur jou hele siel (mind) vir Jesus te gee aan die kruis, kom die bloed van Jesus nou soos die lyn wat ons hier verduidelik en sny net onder jou ken deur en seël nou jou gedagtes van die donkerte aan die onderkant af.  Jou kop is so klein, daar op die kruis, maar nou word jou gedagtes die koninkryk van God en dit word nou net so groot soos wat jy kan verbeel dit is!  Dit is dus waarom ons moet leer waar, en ook wat, die siel is.  Want alles gaan oor die siel. 

Heb 4:12:  “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”

Hier plaas ek die betekenis van die woord ‘hart’ hier in die bogenoemde teks:

G2588, kardia, kar-dee’-ah

Prolonged from a primary κάρ kar (Latin cor, “heart”); the heart, that is, (figuratively) the thoughts or feelings (mind); also (by analogy) the middle: – (+ broken-) heart (-ed).

Die woord ‘hart’ verwys dus ook na die mind of siel.

Luk 2:35:  “Ja, ‘n swaard sal deur jou eie siel gaan – sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.”

Vandat ons nou meer kennis het oor wat Jesus se bloed vir my gedagtes doen, kan ek beter my gedagtes gefokus hou op Christus.  Dus kom ek nou elke môre na die kruis en word geseël met die bloed, my gedagtes is nou kalm en my gewete skoon.  Ek stap met vrymoedigheid in die troonkamer van God in en verbeel myself hoe ek daar staan net soos die man hier in die skildery.  Ek is geklee met Christus, daar is niks wat my aankla nie. Hier is ek volkome beskerm.  Op my kop is ‘n helm van verlossing, ek dra ‘n kroon.  Psalm 103 praat van hierdie kroon.  Die kroon beskerm my van alle kante.  Jesus het ‘n doringkroon gedra en nou dra ek ‘n goue kroon van glorie en heerlikheid. En ek het nog die bloed van Jesus ook wat my seël van die donker, aan die onderkant.  Nou is my gedagtes veilig en heilig.  Ek mag nou verbeel, want ek het die krag wat in my siel is, oorgegee aan God. Die Heilige Gees neem nou oor en ek verbeel my dat ek soos God lyk want ek is in sy beeld geskape.  Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees (Sagaria 4:6). Daar onder in die wêreld (G) gebruik mense hulle eie krag (mind power) om dinge te vermag.  Maar ons gee die krag vir God op die kruis en daarom word my denke vernuwe. 

Ek staan nou hier voor God se troon, ek lyk net soos Jesus. Vader kyk na my deur die bloed waarmee ek gewas word en deur die wapenrusting wat ek aan het en Hy sien Jesus daar staan.  Ek is inderdaad sy beeld.  Nou lees ek die Woord van God, voorgestel deur die skild.  Terwyl ek die Woord lees, ervaar ek hoedat die Woord wat ek lees deur die Heilige Gees, wat ook daar is om my te verteenwoordig, aan my geopenbaar word.  Die Woord van God verkwik my siel. Ek is nou so beïndruk omdat ek die skrif vir die eerste keer verstaan, dat ek dit sommer herhaal.  Die oomblik toe ek die Woord van God herhaal en verstaan, is dit soos in Jesaja 58:11:  “En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.”

En dis nie al nie! Want toe spring die Engele op aandag! (T) En toe ek weer sien, vertrek hulle met ‘n vaart en hulle gaan maak toe my vyande ‘n voetstoel vir my voete.  Ek draai na Jesus met ‘n vraagteken op my gesig en Hy verduidelik toe dat hier, waar ek voor God staan, geklee met Hom, klink en lyk ek net soos Jesus.  Die engele luister en doen die Woord van God.  Dus is dit hoe ek my engele aan die gang sit elke dag.  Dit help tog nie ek probeer die duiwel baklei nie.  As ek die probleem toelaat in my mind dan kyk ek af!  Ek redeneer altyd dat die engele en duiwels is van dieselfde soort en daarom moet die engele van hulle ontslae raak.  My werk is nie om te baklei nie, maar om as ‘n oorwinnaar voor God te staan en om ‘n verhouding met Hom te hê. Om by Hom te kuier en in Sy Liefde te rus. 

Hier voor God leer ek al hoe meer en meer van Hom en van Sy Woord. Die Heilige Gees help my om te onderskei.  Die swaard van die Gees wat jy hier in jou hand hou is nie vir baklei nie, maar vir onderskeiding.  Hoe meer kennis ons kry van die Woord van God hoe beter kan ons onderskei tussen siel en gees.  Die Heilige Gees help ons sodat ons kan weet wanneer ons afkyk en wanneer ons opkyk.  Hy help ons onderskei tussen donker gedagtes en help my om ‘n Jesus-mind te kry.

Die eerste keer wat ek ervaar het hoe die engele aan die gang kom en my probleem aanvat, staan ek daar voor God en wonder so by myself: Nou maar wat doen ek dan nou? Die engele het nou daai probleem gaan aanvat en wat doen ek nou? Ek het besef dat ons eintlik maar baie selfsugtig in ons gebede is.  Ons hardloop hier voor die troon in en gee ons bevele vir die dag en daar gaan ons weer aan met ons dag. Maar Jesus roep my toe en sê vir my dat Hy het my gemaak vir ‘n rede.  Hy wil hê ek moet by Hom kom sit, want hy het my gemis.  Hy wil graag ‘n verhouding met my hê. Dus gaan sit ek nou soos ‘n kind op Jesus se skoot, in Hom. Hier deel ek my hart met Jesus.  Hier vind ek uit wat is die begeerte van my hart.  Onthou ‘hart’ beteken ‘ senter mind’.  Die fisiese hart pomp bloed maar die geestelike hart is die een waarop God se gebooie geskryf moet wees.  Dit is in my hart en in my siel.                        Wanneer ek by Jesus sit en Hy vra my wat is die begeerte van my hart?. Dan weet ek dat die begeerte wat ek by Hom gekry het, om meer tyd by Hom te spandeer, die begeerte van my hart is, en daarom ook Sy begeerte vir my.  Vandat ons die kruis verstaan is dit baie makliker om uit te vind wat die wil van God vir ons lewens is. Ons gaan dit doodeenvoudig net sit en verbeel wanneer ons hier by Jesus sit.  In die begin is dit moeilik om hier by Jesus te sit want ons is nooit geleer hoe om gees te wees nie.  Nou moet ons, ons siel leer hoe om te luister na die Gees. In die begin het ek geweldig gesukkel om God se stem te hoor en om bewus te wees van Sy nabyheid.   Ons kom toe af op ‘n boek geskryf deur Madam Guyon.  By haar het ek geleer om by Jesus te gaan sit.  Sy sê jy kry ‘n gemaklike plek en verbeel jou jy sit op Jesus se skoot. (Natuurlik moet ons eers deur die kruis ingaan voor ons dit kan doen). Dan vat ons sommer Psalms en ons lees die Psalms terug vir onsself asof God dit direk vir ons sê.  Byvoorbeeld Psalm 23: “Ek is die Here jou Herder, niks sal jou ontbreek nie. Ek laat jou neerlê in groen weivelde…” Deur dit so te doen, leer ons die stem van God ken.  Later as ons eers Sy stem leer ken het dan sal ons nie meer nodig hê om die Psalms of ander verse vir ons- self terug te lees nie, ons sal self kan hoor. Ons lees altyd al hierdie boeke van mense wat wonderlike ondervindinge gehad het saam met God, en dan skryf hulle daaroor.  Eintlik is dit dieselfde ervaringe vir almal.  Hierdie persone wat die boeke skryf het dit reggekry om in hierdie plek, hier bokant die lyn, in te kom. Maar nou verstaan ons wat die kruis beteken en dat die bloed van  Jesus my gedagtes beskerm sodat ek ‘n lewendige, werklike verhouding met Christus kan hê.  Al die mense wat ek tot dusver ontmoet het, wil almal graag so ‘n tipe ondervinding of ontmoeting met God hê, maar min mense kry dit reg, want ons gedagtes is so besig met die dinge onder die lyn, dat wanneer ons uiteindelik tyd vir God maak, dan staan ons voor Hom met ‘n skuldige gewete.  Dit bederf alles. Maar nou is ek vry van my skuldige gewete, ek is vry van donker gedagtes en ek is vry van vrese en probleme wanneer ek op die regte manier ingekom het, deur die kruis.

Op ‘n dag gaan sit ek by Jesus en voel toe baie magteloos oor iemand se hardkoppigheid. Ek begin te kla by Jesus oor die persoon.  Dadelik het Jesus sy kop weggedraai.  Ek stop toe onmiddellik en vra wat wil Hy hê moet ek doen.  Hy verduidelik toe aan my dat ek die persoon hier op Sy skoot moet sit. Dan sien  (verbeel) ek hoe die Heilige Gees se wind oor hom waai en hoe die persoon daar rondloop en baie sag van geaardheid is. Ek sien hoe die persoon liefdevol is en mooi dinge doen en sê. ‘n Paar dae lank doen ek presies dit. Ek plaas hom op Jesus se skoot. Elke keer wat ek daarna by Jesus kom, dan sien ek hierdie persoon is ook daar. Tot my  uiterste verbasing sien ek hoe hierdie persoon verander. Oornag, presies soos Jesus belowe het. Tewens, soveel so, dat hy aan almal sy verskoning vir sy hardkoppigheid, aangebied het.

So leer die Here ons dat hierdie plek waarheen ons kom as ons by Hom kom sit, dieselfde plek is waarvan Hy gepraat het in al Sy gelykenisse in die Bybel.  Dis die goeie grond van die Saaier.  Dis die Koninkryk van God.  Dis soos ‘n wingerd. Onder mekaar noem ons dit  ‘Die Tuin’. Maria het Jesus verwar met die ‘tuinier’ na sy opstanding in die tuin waar hy begrawe is. Hierdie plek bokant die lyn is soos om onder die skaduwee van die Almagtige te sit soos in Psalm 91.   Dit het baie name, die 5de boek deur my pa geskryf, verduidelik al die name. Hier in die goeie grond plant ons goeie saad, dan oes ons ‘n oes wat ‘n honderdvoudig is. Soos ons dink, so sal ons wees (Spreuke 23:7).  Alles in die fisiese wêreld is ‘n direkte gevolg van wat ons gesien het in die geestelike by God. Natuurlik is die gevolg van, wat ons hierbo gesien het, dat die aarde gevul (regs onder in die hoek) word met God se heerlikheid.  As ons dit kan sien in die hart, mind, siel, dan kan ons dit hê op hierdie aarde.  Nou sal elke knie buig en tong bely dat Christus die Here is, want ons kan dit sien (R), ons oorwin vir Vrees (P) en ons name staan geskryf in die boek van die Lewe, want ons kan dit sien (S). Om hier te staan voor God en te sê hoe my dag gaan wees is soos om outoriteit te neem oor die dag.  Ons kan dit doen want ons het eers gesterf op die kruis, maar nou het ons opgestaan in Christus. Ons is geregtig en ons het outoriteit oor elke ding in die hemel en op die aarde.

Die kennis van die kruis het ons vrygemaak.  Ons was nog altyd Christene of kinders van God, maar ons het altyd so sleg gevoel oor onsself; want ons meen dat ons graag wil hê dat die wêreld moet sien ons is anders. Maar na ‘n ‘blou Maandag’ voel ons heeltemal verslaan.  Hoe is dit moontlik dat ons wat onsself Christene noem dan nie anders kan wees as die wêreldse persoon nie? Die antwoord is, dat ons nooit verstaan het dat dit  die kruis is wat skeiding tussen die twee koninkryke bring nie.  Noudat ons die bloed van Jesus aanwend as ‘n seël op ons gedagtes, kan die donkerte nie meer vrye toegang tot ons gedagtes hê nie.  En omdat ons gedagtes aan God behoort sal die Heilige Gees die hele dag lank vir jou onderskei tussen siel en gees.  Om siels te wees is om toe te laat dat die donkerte jou gewete vuil maak, maar om gees te wees, is om saam met Jesus te regeer oor die donkerte, in ‘n veilige bloed-gewasde mind.

Een van die groot foute wat ons gemaak het, was om verby die kruis te hardloop na die Tuin toe.  Die ervaring saam met Jesus was so lekker dat ons sommer wil begin verbeel en saam met Jesus  wil loop en dan vergeet ons om deur die kruis in te gaan. Maar ongelukkig word selfs hierdie ervaring ook harde werk. Want as ons nie die eie-ek afsterf by die kruis nie, gaan ons alweer selfsugtig wees en nie volgens die gees saam met Jesus loop nie.  Dan beteken dit ook niks nie.  Daar is nie ‘n maklike oplossing nie. Dit is ‘n leefstyl in Christus en ons kan nie verby die kruis loop sonder om self af te sterf nie.  Die vleeslike natuur binne ons, wil ons die hele tyd aftrek, terug die wêreld in.  As jy nie deur die kruis ingegaan het vandag nie, doen jy al jou verbeel- en bidwerk hier onder aan die voet van die berg, en dit beteken niks, want dit dra geen krag nie.  Net ‘n skoon, bloedgewasde gewete kan ‘n gebed van geloof bid.

Hierdie skildery is nou maar eers die laaste 5 jaar die inleiding vir die grot. Voorheen het ons niks geweet van die lyn nie.  Maar tot ons verbasing loop die lyn toe reg deur die grot ook. 

Bestel die boek en lees verder. Jy kan ‘n vinnige video kyk van die grot op regter kant van die skerm is ‘n video op die ‘side bar’.

Terug na boek lys

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *