Boek 4 – Die Geheimenis van die Eeue

VOORWOORD

Die Geheimenis van die Eeue is natuurlik die geestelike wêreld. Christenkerke kan steeds nie die vraag beantwoord: “Hoe is dit moontlik dat ek in die oggend so heilig is en in die middag die duiwel vanself is nie?” Ons staan op met die beste voornemes, maar verloor op die een of ander manier beheer gedurende die dag. Ons word siek. Ek het persoonlik mense geken wat gely het aan epilepsie, bitterheid, depressie en wat gesterf het van kanker. Ons glo in God, maar het bitter min antwoorde vir die wêreld wat ‘n bespotting van ons maak.

Wat is dit dan wat ons verskillend van al die ander gelowe maak?

En waar is die hemel in alle geval? 

Hierdie en sommige ander vrae sal deur hierdie boek beantwoord word.

Ek is persoonlik geleer dat die hemel op ‘n ander planeet is en dat ek daarheen sal gaan as ek goed is. Jy moet net vasbyt my broer en suster, een van die dae is ons in glorieland! Die enigste rede hoekom ek as Christen volhard, is omdat my moeder vir my op vyfjarige ouderdom, Bybelverhale voorgelees het. Sy het vir my gesê dat, as ek wil, kan ek op my knieë gaan en my lewe vir Jesus gee. Vir my, as kind, het dit geklink asof Jesus die grootste held van alle tye is en ek het gewillig my lewe vir Hom gegee. Onmiddellik het ek hierdie Hoë Plek gesien. Dit was van goud en vol van liefde. Jesus was daar en dit was ‘n plek waar daar geen bekommernis was nie. Dit was ‘n plek waar jy enigiets kan kry wat jy begeer. As ‘n kind, kon ek nie ophou praat van hierdie wonderlike plek nie, want ek was onder die indruk dat almal van hierdie plek geweet het.

My moeder het my egter op ‘n dag vasgetrap en uitgevra omtrent dié plek waarvan ek so baie praat. Ek het aan haar verduidelik dat dit in my gedagtes is. Sy was baie ontsteld en het gesê dat ek dit nie weer mag doen nie, want dit is meditasie en meditasie is Oosters en sonde, direk van die duiwel af.

Ek het aan haar gevra hoekom sy kerk toe gaan? Sy het geantwoord: “Hulle het vir my gesê dat ek nie hemel toe kan gaan as hulle my nie begrawe nie.” Toe ek die eerste keer kerk toe gaan, lyk die priester vir my eerder na Batman en nie naastenby soos Jesus nie. Ek was die hele tyd ongemaklik in die kerk. By nabetragting het ek gedink ek moes miskien ‘n ander kerk probeer het, want sommige priesters en hul gades is soos engele op die aarde. My vader het die kerk gehaat en het hulle bedrieërs genoem. Hy het sy eie soort van geloof gehad en het dit ‘ wees goed en doen goed’ genoem. Hy het my aangemoedig om eerder die hoenderhokke op Sondae skoon te maak en daarom het ek nooit kerk toe gegaan nie. Ek het egter steeds geloofskonsepte en tradisies op skool geleer.

Ek het regdeur my hele lewe soekend gebly na iemand wat my meer van dié plek, wat ek as kind gesien het, kon vertel. Ek het almal gemeet teenoor dit wat ek in die hoë plek gesien het. Ek het daarna by die Vloot aangesluit en baie mense van regoor die wêreld ontmoet. Daar was egter niemand wat dié plek geken het nie. Daar was somtyds van die ouer garde wat verstaan het wat ek bedoel, maar hulle het ook nie geweet hoe om daar te kom, of hoe dit werk nie. Na ses jaar het ek die Vloot verlaat en stoksiel alleen in die bos gaan bly, waar ek totaal van God afhanklik was. Indien ek in die proses sou sterf, sou dit ook aanvaarbaar wees, want ek het ten minste ‘n punt probeer bewys. My filosofie was: “Laat God, God wees en gee God ‘n kans.”

Dit was ‘n beter lewe as die dag tot dag voortploeter volgens mensgemaakte reëls en wette en vooropgestelde idees, van wie God is en hoe om ‘n lewe te maak. Die groot probleem was, ek was siek en sat van die sosiale strukture wat so min geweet het hoe om te oorleef en gelukkig te wees, sonder om afhanklik van ‘n bank te wees. Ek het ‘n nege tot vyf werk gehaat, want dit is so onvervullend. Wil God regtig hê ons moet soos marionette aan iemand anders se toutjies dans?

Ek het gedroom dat ‘n mens selfonderhoudend kan wees. Alles self kan doen en totaal van God, as bron, afhanklik kan wees. Ek wou self die argitek, bouer, loodgieter, elektrisiën en skrynwerker van my eie huis wees. Ter selfdertyd sou ek vir my gesin sorg deur die werk van my hande en in die proses uitvind wie God is. Ek het gedroom dat my kinders sou kon terugkyk op ons lewe en sê: “Dit is die ware Jakob.” Ek wou lewe sonder pretensies en God ‘n kans gee om God te wees. Ek het geglo dat indien ek dit sou regkry, dit die baie mense wat ons ontmoet, wat nie die antwoorde van die lewe met sy baie fasette ken nie, sou kon help.  

Later in my lewe het ek kennis gemaak met die Pinkster Protestante en die Charismatiese bewegings. Hulle het my geleer van die duiwel. Hoe hulle hom beveg en uitdrywe, maar hy keer elke keer terug. Ek wou weet, as daar ‘n duiwel is, waar is hy? Ek is geleer dat hy enige plek kan wees. In ‘n deurhandvatsel, of dat hy die oorsaak is dat die motor gebreek het. Ek is geleer dat alles wat sleg is, is die duiwel se make, maar is dit?

So het ek nag vir nag en dag vir dag, die duiwel beveg. Maar dit het ook nie gehelp om my gesin te versorg en ander mense te help nie. Een nag, het ek die duiwel uitgedaag om my te vermoor, as hy soveel krag het. Dit kon hy ook nie regkry nie. Dit het ten minste bewys dat hy nie oor soveel krag beskik nie. Beslis nie genoeg om my te kon dood nie. Al wat vir my oorgebly het, was om uit te vind, hoekom so baie slegte dinge met my gebeur as die duiwel geen krag het nie.

Ek het probeer om alle onsinnige leringe te vermy. Ek het probeer om my eie lewe te leef, sonder gelowe en tradisies met vooropgestelde idees van wat God sê. Ek het gesê: “Indien God, God is en Hy werklik is, laat Hy met my praat en my Sy reëls leer.”

Dit is wat my laat besluit het dat, indien ek my lewe gaan wy, om uit te vind wat die geheime van die lewe is, en indien ek van God persoonlik wil hoor, ek God persoonlik sal moet leer ken. Ek was gewillig  om hard te werk en het dit baie geniet om my eie huis te bou en toe te sien hoe God al die boumateriaal verskaf. Toe ek begin beeldhou, is ek gelei deur ‘n innerlike wete. Dit het gesê: “As jy gaan beeldhou, moet jy die anatomie van die mens gaan bestudeer.” Ek het dit gedoen soos vir my gesê is. Dit was vreemd dat die regte boeke altyd op die regte tyd daar was.

Ek het begin agterkom dat wanneer ek ‘n nuwe projek wou begin, Hy altyd voorsien het. Toe ek begin skilder het, moes ek leer om verf op die doek te plaas en dit voor my bed te laat voordat ek gaan slaap het. Wanneer ek in die oggend wakker word, het ek figure en karakters in die kleure gesien. Dit is die goed wat ek geskilder het. Die enigste probleem was, ek het dinge geskilder wat ek nie verstaan het nie. Ek het dinge gedoen waarvan ek, op daardie stadium, geen skriftuurlike kennis gehad het nie. Ek het eers jare later agtergekom dat ek besig was om die Tuin te skilder.

Toe ek begin eensaam word, het ek God gevra om vir my ‘n lewensmaat te gee. Tot op daardie stadium het ek nooit ‘n gelukkige huwelik gesien nie en tweedens het ek geweet dat geen persoon, self daardie keuse kon maak nie. Waar sou ek in alle geval ooit ‘n persoon kry wat so mal is om met my te trou? Ek het myself op daardie stadium as ‘n totale, sosiaal wanaangepaste beskou, terwyl ek myself oortuig het, dat ek maar net onkonvensioneel was. Maar hierdie verhaal het ek reeds in my boek Die Lyn vertel.

Ons kon aanvoel dat ons gelei word en so het ek en Yvonne van krag tot krag gegaan. Desnieteenstaande, het ek fisies harder en harder begin werk deur beelde uit harde hout te sny, nuwe huise en besighede te bou, vir my gesin te sorg, na die bekommernisse van verbygangers te luister, soveel so, dat ek weens uitputting, nie langer vir God kon hoor nie. Toe ek uiteindelik klaar maak met wat ek gedink het, ek vir Jesus moes doen, was ek uiters moeg en sterwend. Ek het my vrou, Yvonne gevra om met my saam te stem dat ek Jesus sou vra om my liewer te neem na die huis van my Vader in die hemel. Ek het in daardie afgelope dertig jaar, meer vermag as wat tien mense in ‘n leeftyd sou regkry. Die Here het op Sy sagte manier my geleer dat ek nou, onmiddellik, deel kan hê in die hemel.

Op hierdie stadium, het ons pas klaargemaak met die bou van ons huis en die besigheid op ons huidige perseel, hier by Die Skoen. Ons het die Grot ook klaargemaak. Die Grot het talle mense gehelp en ek het gedink dat ek nou gedoen het, wat ek veronderstel was om te doen met my lewe. Yvonne en die kinders sou hier kon lewe en aangaan om ‘n vriend en helpende hand te wees vir die eensames, die verwardes en die depressiewes. Ek was doodmoeg en kon God nie meer hoor nie. Daarom het ek besluit om my te wend tot iemand wat wel kon.

Ons het al die pad Kaapstad toe gery. ‘n Duisend-agt-honderd kilometers, waar ‘n bejaarde dame haar hande in haar skoot gevou het en vir die Here gevra het, hoekom Hy nie meer met my praat nie. Na ‘n rukkie het sy opgekyk en gesê, die Here sê: “Sê vir hom, Ek wil nie met hom praat nie.” Die dame het gesê: “Ek het nog nooit van so iets gehoor nie.” So het ons al die pad terug gery huis toe. Oppad terug, het sy gebel en vir my Job 11:16 gegee. Dit sê basies die volgende: ‘Wanneer die oggendson kom, sal al die probleme verdwyn.’ Ons was baie verward.

Ek het huis toe gery en ‘n kamer vir my gaan bou, waar ek alleen kon wees en waar ek op God kon wag. Twee weke later het Hy met mening daardie kamertjie binnegekom en my ‘mind’, wat ek aan harde werk oorgegee het, kom terugeis. Hy het gesê: “Ek het aan die kruis gesterf, sodat Ek altyd by jou kan wees.” Hy het my vir weke in trane gehad. Sedert daardie dag, gee ek die eerste drie tot vier ure, elke dag aan Hom. Dit is hoe ek die kennis kry wat ek in die vorige boeke met u kon deel en so ook in hierdie boek, Die Geheimenis van die Eeue.

Die ‘oggendson’ waarna verwys word in Job, is een van die name vir die Koninkryk van God. Volgens Strong se woordeboek, is die ander name ‘blydskap’ en ‘weerlig’. Die eerste plek waar hiervan, in die Bybel melding gemaak word, is in Genesis 1:3, toe God gesê het: “Laat daar lig wees.”

Hierdie boek sal vir u nuwe insig gee in die volgende:

  • Wat gedurende die kruisiging in die geestelike wêreld gebeur het en hoekom Jesus moes sterf.
  • Dit sal u wys hoe diep ons is.
  • Hoekom gebeur slegte dinge steeds met my, al is Jesus die Here van my lewe?
  • Waar is die hemel en hoe lyk dit daar?
  • Waar is die hel?
  • Wat is epilepsie?
  • Kan die kragte van die hemel, nou in my lewe werk?        

U sal al die antwoorde tussen die lyne vind en die Gees wat in u woon, sal verduidelik terwyl u biddend lees. Ek belowe u, baie mites sal te ruste gelê word.

INLEIDING

Hierdie boek is die resultaat van deur ‘n maand by die Here deur te bring. Ek kon duidelik in die gees sien, hoe dit met my gesin en vriende gaan, dog ek het geen openbaringskennis gedurende die tyd ontvang nie. Hierdie boek het myself geweldig baie gehelp, daar ek altyd gewonder het, wat het gedurende die kruisiging, in die geestelike wêreld gebeur?  As jy voel die ‘Passion’-fliek het dit nie vir jou gedoen nie, hierdie boek sal die prentjie vir jou voltooi.

Hierdie boek is geskryf asof dit die draaiboek van ‘n rolprent moes wees. Ek het bloot net die dinge geskryf wat ek in die gees gesien het. Ek het gedink dat dit iets soos ‘The Lord of the Rings’ sou wees. Die grootste probleem was egter dat niemand die boek kon verstaan nie. Dit is die rede waarom ons die eerste drie boeke moes skryf om hierdie boek te verduidelik. Ook die skildery wat u weldra sal sien, is aan my gegee deur hierdie boek en dit sal ook help om die boek te verduidelik.

Ons het geen probleem met demone buite ons nie, maar wat gebeur as ons na ons innerlike self kyk en sien dat ons hierdie plek alte goed ken?

Dit is die ‘mind’ van die ongeredde persoon…

Kry die boek en lees ook die visioen wat ek gehad het oor die Kruisiging en sien hoe die prentjie hier bo van die ongeredde mens verander in ‘n geredde mens.

Back to Resource page

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *